Summary: | M.Ed. === Die literatuurondersoek het aangedui dat daar ‘n groot dispariteit is in die toewysing van befondsingshulpbronne en steun wat aan skole toegeken word wat daartoe gelei het dat daar verskillende tipes en kwaliteit van onderwys aan leerders in Suid-Afrika aangebied is. Die evalueringsprosesse van die verlede, nie slegs in Suid-Afrika nie maar ook in Australië, die Verenigde Koninkryk en die Verenigde State van Amerika het hiërargiese verhoudings beklemtoon en die evaluering van opvoeders was na bewering ‘n werktuig van hiërargiese en sosiale beheer. Die meerderheid van opvoeders in Suid-Afrika was agterdogtig oor die inspeksiestelsel van die verlede en hulle het weerstand gebied deur die mobilisering van vakunie-ondersteuning, met die resultaat dat hulle die inspekteurs en die lede van die skoolbestuur verbied het om hulle klaskamers te betree. Die verwerping van die apartheidsonderwysstelsel het daartoe gelei dat swart skole aan die stryd vir demokrasie meegedoen het. Die klimaks was die 1976 Soweto-onluste, wat uiteindelik daartoe gelei het dat die onderrig- en leerkultuur in baie van die swart skole ‘n mislukking was (Smith & Ngoma-Maema, 2001:10). Met die geboorte van demokrasie in Suid-Afrika, het die land radikale veranderinge in alle aspekte, insluitend die onderwys ondergaan. Dit het dus noodsaaklik geword dat die demokratiese regering en die departement van onderwys die kwaliteit van die onderwys moes verbeter, veral na die swak matrikulasieresultate van 1995 tot 2000. ‘n Veldtog is geloods om skole aan te moedig om ‘n onderrig- en leerkultuur (OLK) te skep. Dit is in hierdie konteks dat Geheelskool Evaluering (GSE) tot stand gekom het om die nege voorafgedefinieerde areas van die skool te evalueer. Hierdie navorsing handel oor een van die areas van Geheelskool Evaluering, en spesifiek ‘kwaliteit onderwys’. Die Geheelskool Evalueringsbeleid skryf die opvoederbevoegdhede vir kwaliteit onderwys voor. ‘n Vraelys is opgestel om vas te stel wat die persepsies van opvoeders is in verband met die belangrikheid van die vaardighede vir kwaliteit onderwys. Die vraelys het bestaan uit 75 items in verband met essensiële opvoedervaardighede. ‘n Gestratifiseerde gerieflikheidsteekproef wat uit 600 deelnemers bestaan het is in hierdie studie gebruik. Die vraelyste is na opvoeders in Mpumalanga en KwaZulu-Natal versprei. Die voltooide vraelyste is versamel en na die Statistiese Konsultasiediens van die Randse Afrikaanse Universiteit gestuur sodat statistiese toetse gedoen kon word. Die statistiese toetse het een (1) tweede orde-faktor aangedui, naamlik ‘die belangrikheid van opvoedervaardigheid vir kwaliteit onderwys', met ‘n Alpha Cronbach betroubaarheidskoëffisiënt van 0,982 wat as baie betroubaar beskou word aangesien dit groter is as 0,7. Twee of meer onafhanklike groepe is vergelyk en dit is bevind dat al die onafhanklike groepe van mening was dat opvoedervaardigheid tot ‘n wisselende graad belangrik vir kwaliteit onderwys is. Die bevindinge dui aan dat die volgende onafhanklike groepe sterker as ander van mening was dat opvoedervaardigheid uiters belangrik vir kwaliteit onderwys is, naamlik: die Christene as Godsdiensgroep, die Afrikaanse moedertaalgroep, die uitstekende leerder-bywoningsgroep, die uitstekende opvoeder-bywoningsgroep en die uitstekende skoolbeeldgroep. Dit blyk dat uitstekende bywoning deur leerders en opvoeders en die positiewe beeld van die skool verband hou met ‘n gesonde skoolklimaat waar daar goeie dissipline is. Die bevindinge dui ook aan dat daar meriete is in die assessering van essensiële opvoedervaardighede en dit regverdig die titel Die volgende gevolgtrekkings is na aanleiding van hierdie navorsing gemaak: • Geheelskool Evaluering (GSE) is ‘n sistematiese benadering tot totale skoolverbetering wat elke aspek van ‘n skool inkorporeer om die kwaliteit van opvoeding te verbeter. Daar is bevind dat die nege (9) areas • wat deur die GSE bepaal is inderdaad relevant is vir die evaluering van skole in Suid-Afrika; • die beste manier om opvoedervaardigheid te konseptualiseer is deur ‘n integrasie van die kenmerke van individue (kennis, vaardighede, neigings en waardes) met die eise van die take en aktiwiteite (Gonczi, 2002:4); • die beste manier om opvoedervaardigheid te assesseer is deur die holistiese geïntegreerde metode te gebruik waardeur vaardigheid van die opvoeder se prestasie afgelei kan word. Hierdie metode bestaan uit die kombinering van kennis, begrip, vaardighede, houdings/waardes, etiek en probleemoplossing; en • opvoeders wat aan hierdie navorsing deelgeneem het was van mening dat die vaardighede wat deur die GSE geïdentifiseer is, inderdaad belangrik is vir kwaliteit onderwys. Die algemene en spesifieke doelwitte van hierdie navorsingsprojek is bereik en onderwerpe vir verdere navorsing is voorgestel.
|