Summary: | D.Ed. === Hierdie navorsing fokus op onderwysers se persepsies aangaande deurlopende professionele onderwyser ontwikkelingsprogramme in Omgewingsopvoeding en die mate waartoe dit hul onderwyspraktyk beïnvloed. Die navorsingsprobleem word omskryf deur die volgende sub-vrae: • Wat is die onderwysers se persepsies aangaande hul eie bekwaamhede in Omgewingsopvoedingspraktyke as resultaat van die indiensopleidingsinsette? • Welke onderwysstrategië en -metodes het die onderwysers tydens indiensopleiding aangeleer en op watter wyse(s) hul dit in die klaskamersituasie aanwend om hul praktyk te verbeter. • Watter kennis, vaardighede en waardes op die terrein van Omgewingsopvoeding het die onderwysers tydens die indiensopleidingsinsette aangeleer? • Watter riglyne kan uit die navorsing gepostuleer word ter optimalisering van indienslopleidingsinsette in die algemeen, en in besonder in die geval van insiensopleidingsprogramme vir Omgewingsopvoeding? Die navorsingsontwerp vir die empiriese komponent van hierdie navorsing het ‘n kombinasie van kwantitatiewe en kwalitatiewe navorsingsmetodes behels en deur middel van triangulering van die ingesamelde data toegepas. In die kwantitatiewe dimensie van die navorsing is ’n omvattende gestruktureerde vraelys ontwikkel en deur die steekproef van respondente, wat willekeurig uit die populasie getrek is, voltooi. Die data hierdeur verkry is aan beide die Kaiser-Meyer-Olken en die Bartlett toetse onderwerp. Die 33 (uit die oorspronklike 35) oorblywende items is aan twee opeenvolgende faktor-analise prosedure onderwerp op basis van die “Principle Axis Factoring” metode. Die kwalitatiewe dimensie van die navorsing het gesteun op fokusgroep onderhoude waaraan drie groepe van vyf respondente elk (‘n total van 15 respondente) deelgeneem het. Respondente vir hierdie drie groepe is willekeurige getrek om die volgende drie geografiese gebiede te verteenwoordig: Oos-Rand, Johannesburg-Suid en Johannesburg-Sentraal. ‘n Onderhoudskedule bestaande uit vier oop-end vrae is vir hierdie doel ontwikkel. Die data is op die wetenskaplik aanvaarde prosedure van bandopnames, transkripsies en verifiëring deur die respondente ingesamel, waarna dit gekodeer, grafies voorgestel en geanaliseer is. Die belangrikste bevindings van hierdie navorsing sluit in dat: • Die aantal vorige indiensopleidingsprogramme deurloop; die jare onderwyservaring bydra tot onderwysers se positiewe belewing van indiensopleidingsinsette vir Omgewingsopvoeding. • Indiensopleidingsprogramme wat voorsiening maak vir die volgende aspekte baie sterk positief beleef word: groepwerk tussen deelnemers tydens die indiensopleidingsprogram; geleentheid om die programinhoud in hul klaskamers te gaan toepas en daarna gesamentlik daarop te reflekteer; asook geleenthede waar fasiliteerders van die indiensopleidingsprogramme die deelnemers in hul klaskamersituasie gaan waarneem en ondersteun in toepassing van die programinhoude. === Prof. H.G. Van Rooyen
|