Summary: | Includes bibliography. === Die navorser het gepoog om vas te stel of drosgedrag in assosiasie met sekere veranderlikes plaasvind, dus of daar tendense bestaan. Die veranderlikes van belang vir die maatskaplike werk professie het voorkeur gekry in die studie. Die doel hiervan was om aan te toon dat hierdie professie 'n rol kan speel ten opsigte van hierdie gedrag. Die studie is beperk tot een inrigting, naamlik 'n plek van veiligheid. Tendense oor 'n 10 jaar tydperk, 1980-1989, is bestudeer sodat moontlik ook die invloed van personeelaangeleenthede en verskille in die bestuur van die inrigting indentifiseer kan word. Die data is vanuit argiefrekords, soos die persoonlike leêrs, straf-, opname-, en drostersregister, verkry. Ongestruktureerde onderhoude met die personeel het addisionele inligting verskaf. Oor sekere van die data is gegewens van die totale drosterpopulasie oor 10 jaar ingewin (N=492). Ander gegewens is vanuit die beskikbare persoonlike lêers (nl=413) verkry. Nie alle lêers het die verlangde gegewens beskikbaar gehad nie, en vir sekere gegewens is data vir kleiner groepe drosters ingewin. Hierdie gegewens is getabuleer, en waar van toepassing, is van grafieke of histogramme gebruik gemaak. Uit die resultate kon die volgende afgelei word: die omvang van die probleem is wyd en regverdig navorsing. 'n Hӧer drossyfer word in die maande van Februarie, Maart en November gevind. Daar is nie 'n tendens om op sekere dae van die week meer as ander dae te dros nie. Die meeste drosters dros binne 'n kort tyd na opname, en dros dan slegs enkele male van korte duur. Meer seuns dros as dogters. Die meeste drosters val binne die ouderdomsgroep 14-16 jaar en hierdie groep is ook vir die hoogste aantal drosinsidente verantwoordelik. Die meerderheid drosters dros in groepe, en in die geselskap van 'n ervare droster wanneer hulle die eerste maal dros. Die meeste drosters het 'n geskiedenis van wegloop- of drosgedrag. Die I.K. van drosters is ietwat laer as die van die normale bevolking, en hulle is ook meestal skolasties vertraag. Die meeste drosters meld mees gereeld hulle ongelukkigheid by die veiligheidsplek as 'n rede vir dros. Daar word tydens drosinsidente meestal huiswaarts gedros. Uit die resultate kon dus afgelei word dat, hoewel drosters waarskynlik ook emosionele probleme het, omgewingsfaktore 'n rol speel by drostery. Die belangrike implikasie van die bevinding is dat drostery deur omgewingsmanipulasie verminder behoort te kan word, en dat die maatskaplike werk professie 'n belangrike rol in die opsig kan speel.
|