Summary: | Die studie het ten doel om die drie sleutels na te vors vir die ontdekking van ʼn jeugbediening se roeping naamlik die “groot fokus”, op Jesus Christus, die opgestane Here, die “groot gebod”, liefde vir God en liefde vir jou naaste en die “groot opdrag”, om dissipels van die nasies te maak.
Die voorgestelde model vir jeugbediening het die vestiging van ʼn omvattende jeugbediening vir die jongmense van die Gereformeerde Kerk Suid-Afrika ten doel gehad.
Hiervoor is gebruik gemaak van agt elemente vir die kommunikasie van die boodskap van die evangelie van Jesus Christus.
Pretorius (2003) het bogenoemde drie sleutels in ʼn model vir gemeentebou nagevors. Hierdie studie doen verdere navorsing om die relevansie van die drie sleutels in jeugbediening en ʼn inklusiewe benadering tot jeugbediening in die Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika aan te toon. Die studie is gedoen met die prakties-teologiese model van Zerfass as uitgangspunt en wat dievolgende behels:
ʼn basisteorie van veral 1 Korintiërs 1:18-2:16, Filippense 1:9-11 en Matteus 28:18-20, waarvolgens Skrifperspektiewe oor die onderwerp nagevors is;
ʼn metateorie waarvolgens materiaal in ander vakdissiplines bestudeer is;
empiriese navorsing deur onderhoude te voer met predikante en jeugbedienaars;
ʼn praktykteorie waar riglyne voorgestel word vir ʼn omvattende jeugbediening in die GKSA.
Deur Skrif met Skrifvergelyking word aangedui dat die drie sleutels tematies in die Bybel voorkom. In 1 Korintiërs 2:2 stel Paulus die vertrekpunt: “want ek het my voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde”. Teenoor die soeke na wysheid, tekens, wonders, mag en status (1 Korintiërs 1:22-23) fokus Paulus op die verkondiging van Christus as gekruisigde (1 Korintiërs 2:2).
Filippense 1:9-11 word bestudeer as voorbeeld vir die aanvoering van die groot gebod as ʼn sleutel in jeugbediening. Die jeugbediening moet uitgebrei word deur voortdurende gebede vir die toenemende liefde vir God deur ʼn verhouding met Jesus Christus. Verhoring van gebede vir meer en meer liefde lei tot die uitbreiding van die jeugbediening deur liefde vir die buitekerklike en kerklike jeug deur die oorvloedige liefde van Jesus Christus en deur erns te maak met die groot opdrag gegee deur Jesus Christus, naamlik die maak van dissipels van die nasies soos in Matteus 28:18-20.
Navorsing wys daarop dat daar reeds verskeie modelle met die fokus op Jesus Christus in jeugbediening bestaan en toegepas word. Hierdie jeugbedienings voer die groot opdrag uit. Die metateoretiese navorsing wys daarop dat die Purpose Driven Youth Ministry (PDYM) model groot voordele inhou as ʼn model ter fasilitering van jeugbediening en dat die agt elemente wat deur Nel (1998) voorgestel word, gekontekstualiseer kan word in die Gereformeerde Kerk.
Die progressie van die groot fokus, die groot gebod en die groot opdrag kan verenig word in ʼn proaktiewe model as sleutels om jeugbediening te lei om hulle roeping te vestig en kan deur plaaslike gemeentes geïmplementeer word.
Met verwysing na die navorsingsvraag, die sentrale teoretiese argument en navorsing in hoofstuk 2 tot 5 word ʼn finale gevolgtrekking gestel, naamlik dat jeugbediening met die groot fokus, getrou aan die groot gebod en die groot opdrag en deur die agt elemente te implementeer om die evangelie van Jesus Christus te verkondig, noodsaaklik is. Verder is dit nodig dat plaaslike gemeentes ʼn inklusiewe benadering tot jeugbediening volg. ʼn Model vir die strategie van so ʼn jeugbediening word verduidelik en voorgestel. === MTh (Catechetics), North-West University, Potchefstroom Campus, 2010
|