Summary: | Die doel met hierdie navorsing was om ‘n analise van die selfgereguleerde leervaardighede van leerders in die BEd Honneurs Oopafstandsleerprogram te doen en ‘n onderrigmodel daar te stel om genoemde vaardighede te verbeter. Om hierdie doel te bereik is ‘n literatuurstudie onderneem ten einde a) leer te omskryf volgens die behavioristiese, sosiaal–kognitiewe, inligtingverwerkings, konstruktiwistiese teorieë en volwasse leerteorieë; b) selfgereguleerde leer te omskryf vanuit die behaviouristiese, fenomenologiese, Vygotskiaanse, kognitief–konstruktivistiese en sosiaal–kognitiewe beskouinge, met die klem op laasgenoemde beskouing en c) afstandsleer en die vereistes wat afstandsleer en selfgereguleerde leer aan afstandsleerders stel, te beskryf.
Vanuit literatuur is bepaal dat effektiewe leer gedefinieer word vanuit die navorser se oriëntasie tot leer sowel as die aard van leer in ‘n spesifieke konteks. Die verskillende leerteorieë beklemtoon verskillende aspekte van leer en hou verskillende implikasies in vir programontwerp, rolle van onderriggewers, leermetodes en assessering. Verder dui literatuur op ‘n positiewe verband tussen selfgereguleerde leer en akademiese prestasie. Terselfdertyd dui bestaande literatuur daarop dat suksesvolle afstandsleerders selfregulerend moet kan leer en dus oor sodanige vaardighede moet beskik.
Die navorsingspopulasie het bestaan uit BEd Honneurs oopafstandsleerders van Noordwes–Universiteit asook fleksieleerders van die Noordwes–Universiteit, Potchefstroomkampus wat alreeds eksamen afgelê het in die Leerperspektiewe module. Die teikengroep het bestaan uit leerders wat reeds vroeër eksamen afgelê het in die module LEON 611 en tydens kontaksessies in 2010 by spesifieke kontaksentrums en vakansieskole bygewoon en die vraelyste voltooi het (n=264).
‘n Multi–metode ontwerp is geïmplementeer waar ‘n kombinasie van kwantitatiewe en kwalitatiewe navorsing aangewend is om die navorsingsprobleem beter te verstaan. Kwantitatiewe data is ingesamel aan die hand van vier vraelyste waarná aanvullende kwalitatiewe data–insameling met semi–gestruktureerde onderhoude gevolg het. Kwantitatiewe navorsing het geskied aan die hand van ‘n ex post facto–benadering en data is statisties ontleed deur middel van a) faktoranalise, b) meervoudige regressie–analise, c) stapsgewyse regressie–analise en d) effekgroottes. Kwalitatiewe data is met behulp van ATLAS.ti.6.0 - ‘n rekenaarondersteunde stelsel, ontleed.
Resultate van die ondersoek dui daarop dat deelnemers nie voldoen aan al die vereistes vir effektiewe afstandsleer nie. Bereiking van leerdoelwitte is in ‘n groot mate afhanklik van die steun van onderriggewers en porture. Hul beskik nie oor inligtingstegnologiese vaardighede nie en kan nie effektief leer waar nie–moedertaalonderrig ter sprake is nie. In teenstelling met bestaande literatuur dui kwantitatiewe en kwalitatiewe resultate op ‘n lae verband bestaan tussen afstandsleerders se selfgereguleerde leervaardighed en hul akademiese prestasie. Deelnemers maak selde gebruik van selfgereguleerde leervaardighede soos ter sprake tydens die voorafdenkfase maar meer tydens die wilsbeheer– en selfreaksiefases.
‘n Model is ontwikkel vir die verbetering van selfgereguleerde leervaardighede van oopafstandsleerders, inbegrepe deurlopende ontwikkeling van akademiese taalvaardigheid en inligtingstegnologiese vaardighede. Aanpassings in studiemateriaal en verandering van onderrigstrategieë en terugvoer is belangrike aspekte van die model. === Thesis (Ph.D. (Education))--North-West University, Potchefstroom Campus, 2011.
|