Summary: | Vir die doeleindes van hierdie studie word die nasionale fisiese ruimte
verdeel in drie spesifieke sones, naamlik die metropolitaanse streek (kern),
die intermediêre streek (oorgangsone), asook die periferie streek wat die
grootste fisiese oppervlakte in 'n ontwikkelende land soos Suid-Afrika
beslaan. Die intermediêre streek bestaan uit die 'oorgangsstreek' tussen die
metropool en die periferie en word geïdentifiseer deur middel van homogene
karaktereienskappe wat die intermediêre streek as spesifieke entiteit in fisiese
beplanning laat figureer. In terme van geografiese eienskappe, het die
intermediêre streek heelparty raakpunte met Friedmann (1966) se 'opwaartse
oorgangstreek'. Die intermediêre streek word egter nie net deur morfologiese
groeiprosesse geïdentifiseer nie, maar ook deur middel van migrasiepatrone,
die hervestiging van ekonomiese aktiwiteite, streekontwikkelingsbeleid en die
ruimtelike verspreiding van ekonomiese aktiwiteite.
In terme van streekbeplanning in Suid-Afrika, het die intermediêre streek
heelwat aandag ontvang in terme van beplande desentralisasie van
ekonomiese aktiwiteite. Sedert die laat 1950's het die Suid-Afrikaanse
regering geen moeite gespaar in die aanwending en aansporing van 'n
groeipool-strategie vir die doeleindes van streekontwikkeling nie. Die
oorsprong hiervan word gevind in die destydse Eerste Minister, dr. H.F. Verwoerd se 'grensgebied'-ontwikkelingstrategie, wat gebaseer was op die
stimulering van groeipunte aanliggend tot metropolitaanse streke en/of
aanliggend aan die tuislande.
Hierdie beleid ten opsigte van streekontwikkeling het verskeie veranderings
ondergaan in die opvolgende dekades: die grensgebied-groeipunte is herdoop
na 'dekonsentrasiepunte' (in die apartheidsfase), 'groeipole', 'groeisentrums',
en 'desentralisasie punte' (in die sogenaamde 'grand apartheid'-fase), om maar
enkele benamings uit te wys. Die beginsel wat egter steeds gegeld het ten
opsigte van streekontwikkeling, uitgesonderd die polities-geïnspireerde
benadering, was die gebruik van spesifieke stedelike sentra as uitgangspunt
vir gemee1iskap- en streekontwikkeling. Nasionale, sowel as internasionale
kritiek ten opsigte van die beginsel van 'aparte ontwikkeling' wat onder
andere deur hierdie beleid tot uitvoering gebring is, het mettertyd aanleiding
gegee tot 'n totaal-nuwe benadering ten opsigte van streekontwikkeling.
In plaas van die tradisionele groeipunt-benadering, is 'n uniforme benadering
in 1991 geïmplementeer, bestaande uit 'n strategie wat potensieel
ontwikkelingsvoordele aan alle stedelike sentra in die nasionale ruimte bied -
metropolitaanse gebiede uitgesluit. Volgens hierdie strategie kan enige
entrepreneur in elke moontlike ligging in die land, aansoek doen vir finansiële
aansporingsmaatreëls van die sentrale owerheid vir die vestiging van nuwe
industrieë in nie-metropolitaanse Suid-Afrika.
Die opinie word egter gelewer in die studie dat hierdie verandering in rigting
sekere leemtes laat ten opsigte van die optimale benutting van nasionale
ontwikkelingspotensiaal. Hierdie standpunt sal gemotiveer word deur middel
van 'n diepgaande studie van die prosesse wat stads- en streeksbeplanning rig
en spesifieke voorstelle sal gemaak word ten opsigte van die ontwikkeling
van die intermediêre streek in nasionale fisiese beplanning.
In Hoofstuk 2 van die studie word aandag gegee aan die identifisering en
kwalifisering van die intermediêre streek op grond van verskeie teorieë en
empiriese studies op nasionale sowel as internasionale vlak. Die
identifisering van die intermediêre streek is bemoeilik deur 'n tekort aan
inligting, aangesien geen spesifieke verwysing daarna in die literatuur bestaan
nie. Daar word egter geargumenteer dat sekere belangrike prosesse
'saamgevat' kan word in 'n spesifieke ruimtelike gebied in die ekonomiese
ruimte van 'n land. Uit die literatuur blyk dit dat verskeie aktiewe kragte wat
morfologiese ontwikkeling beïnvloed, gesamentlik aangetref word in die
intermediêre streek. Aangesien die literatuur nie hierdie streek aandui as
bestaande uit spesifieke ontwikkelingspotensiaal as gevolg van bogenoemde
karaktereienskappe nie, word 'n formele definisie van die intermediêre streek
in terme van ekonomiese en ruimtelike ontwikkeling afgelei in hierdie
hoofstuk.
In Hoofstuk 3 word die onderskeie teorieë en prosesse bespreek wat
stedelike- en streekontwikkeling rig en aanleiding gee tot die manifestasie van
die intermediêre streek. Ooreenstemmende migrasieprosesse en -patrone wat
in ontwikkelde lande ondervind word, is in Suid-Afrika geïdentifiseer wat
bewys lewer van veranderende denke ten opsigte van ontwikkeling en
lewenskwaliteit in spesifieke sektore van die Suid-Afrikaanse samelewing.
Hoofstuk 4 voorsien ʼn oorsig van streekontwikkelingsbeleid in verskeie lande
waardeur gepoog word om optimale ontwikkelingstatus te bereik.
Hoofstuk 5 is 'n historiese oorsig van die ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse
ruimtelike ekonomie sedert die voor-industriële fase, dit wil se,
vanaf ongeveer 1870. Hierdie afdeling voorsien die nodige agtergrond vir die
bespreking rakende groeipool-Strategieë wat in Suid-Afrika sedert die 1960's
geïmplementeer is. In Hoofstuk 6 word die nuwe Streeknywerheidontwikkelingsplan
wat in 1991 die lig gesien het, geëvalueer in terme van
teoretiese agtergrond en praktiese implementering. In die finale hoofstuk,
word 'n intermediêre streek afgebaken deur middel van spesifieke empiriese
data waarna deurentyd in hierdie studie ve1wys word. Laastens word 'n
intermediêre streek-strategie voorgestel wat gebaseer is op verskeie
streekontwikkelingsprosesse en -patrone, sowel as verskeie beplanningsinstrumente
en -strategie. === MArt et Scien (Bepl.), PU vir CHO, 1994
|